Marie Antoinette

Definisie

Harrison W. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 04 April 2022
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Portugees, Spaans, Turkse
Marie Antoinette in a Muslin Dress (by Élisabeth Vigée Le Brun, Public Domain)
Marie Antoinette in ’n moeselienrok
Élisabeth Vigée Le Brun (Public Domain)

Marie Antoinette (1755-1793) was tydens die stormagtige finale jare van die Ancien Régime en die daaropvolgende Franse Revolusie (1789-1799) koningin van Frankryk. Met die bestyging van die troon deur haar man Louis XVI (r. 1774-1792) het sy op 18-jarige ouderdom koningin geraak, en baie van die blaam vir die vermeende morele gebreke van die Franse monargie sou later op haar skouers kom rus.

Vroeë jare

Sy is op 2 November 1755 in Wene as Maria Antonia Josepha Joanna, aartshertogin van Oostenryk, gebore. Haar geboortedatum was nogal onheilspellend met dié dat dit een dag was nadat ’n aardbewing die lewe van 30 000 mense in Lissabon geëis het – ’n onrusbarende voorteken van die ongelukkige toekoms wat op haar gewag het. Haar ouers, die Habsburgse keiserin Maria Theresa van Oostenryk (1717-1780) en Francis I, Heilige Romeinse Keiser (1708-1765) was op die spits van hulle eie glorie gewees en het geen rede gesien om nie die geboorte van hulle vyftiende en voorlaaste kind, die toekomstige koningin van Frankryk, te vier nie.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Die jong aartshertogin, wie se moeder haar lieftallig die bynaam “Madame Antoine” gegee het, het gelukkige kinderjare geniet en haar winters deurgebring deur op ’n slee met die heuwels naby die familie se bergtuiste by Laxenburg af te rits, en haar somers in die gerief van Schönbrunn Paleis in Wene verwyl. Dit was by Schönbrunn wat Maria Antonia die wonderkind Wolfgang Amadeus Mozart ontmoet het toe albei sewe jaar oud was, en waar haar eie belangstelling in musiek geprikkel is; sy het sowel die klavesimbel as die fluit bespeel, en in danskuns uitgeblink. In so ’n groot gesin het Maria Antonia haar behaag in die vriendskap van haar suster, Maria Carolina, die toekomstige koningin van Napels en Sicilië.

NÁ ’N HANDSKOENHUWELIK EN AFSTANDDOENING VAN ENIGE AANSPRAAK OP HABSBURGSE GROND, HET MARIA ANTONIA NA FRANKRYK VERTREK OM DIE TOEKOMSTIGE LOUIS XVI TE ONTMOET.

Maria Theresa was nooit juis die innemendste moeder nie maar die afsterwe van haar eggenoot in 1765 het die keiserin in ’n toestand van rou gedompel wat die res van haar lewe sou duur en dikwels die vorm van ontevredenheid met die gedrag van haar jonger kinders aangeneem het. Hierdie afsydige en komplekse verhouding met Maria Antonia, wat net soveel ’n politieke pion as dogter was, kan later die beste in die woorde van ’n volwasse Marie Antoinette opgesom word toe sy in ’n brief skryf, “Ek is lief vir die keiserin, maar ek is bang vir haar, selfs op ’n afstand; wanneer ek vir haar skryf, voel ek nooit heeltemal op my gemak nie.” (Fraser, 22) Maar vir ’n familie so aansienlik soos die Habsburgers sou plig altyd voor ouerliefde gestel word, en derhalwe het Maria Antonia haarself in 1769 as verloofde tot die dauphin van Frankryk bevind.

Verwyder Advertensies
Advertisement

’n Frans-Oostenrykse bondgenootskap was beslis ’n kontroversiële verwikkeling van sake aangesien baie inwoners van elke land dié van die ander gehaat het; voor die Sewejarige Oorlog (1756-1763) was koning Louis XV van Frankryk (r. 1715-1774) self die vyand van Maria Theresa gewees. En tog het ’n verswakte Franse koninkryk ná die konflik onwillig, en gedrewe deur noodsaaklikheid, ’n bondgenootskap met Oostenryk aangegaan, met die onderlinge verstandhouding dat sogenaamde alliansie met ’n huwelik gekonsolideer moes word. Dit is uiteindelik besluit dat Maria Antonia met Louis XV se kleinseun, Louis-Auguste, hertog van Berry (1754-1793), moes trou wat ná die dood van sy vader in 1766 erfgenaam en dauphin van Frankryk geraak het. Gevolglik het Maria Antonia ná ’n handskoenhuwelik en afstanddoening van enige aanspraak op Habsburgse grond op slegs 14-jarige ouderdom na Frankryk vertrek om haar nuwe man te ontmoet, en op 14 Mei 1770 in Versailles aangekom. Sowel as die titel dauphine, het sy ook die Franse weergawe van haar naam aangeneem: Marie Antoinette.

Dauphine van Frankryk

Die oorgang van Oostenryk se aartshertogin tot Franse dauphine was geen maklike taak nie. Benewens Marie Antoinette se futlose Frans – lukraak deurspek met Duitse frases – is haar opname bemoeilik deur die streng etiket verbonde aan die hoofse lewe te Versailles. In ’n hof spesifiek bedink om om die koninklike familie te wentel, het Marie Antoinette uitgevind dat privaatheid nie ’n weelde was wat die Franse koninklikes beskore was nie. Howelinge het haar dopgehou terwyl sy eet terwyl ’n gehoor dames haar geselskap gehou het terwyl sy aantrek. Intussen moes sy gewoond raak aan die nietighede van hoofse protokolle, sowel as aan die Versailles-modes wat uit die oordadige aanwending van rouge-grimering en haarpoeier bestaan het – ’n kombinasie wat die mede-Oostenryker Leopald Mozart as “ondraaglik vir die oë van ’n eerbare Duitser” (Fraser, 78) beskryf het.

Verwyder Advertensies
Advertisement

En tog moes die tienderjarige dauphine baie vinnig aangepas het. Die keiserin, wat deurentyd kontak met Marie Antoinette behou het, het van al haar kinders verwag om hulle te bearbei om Habsburgse belange te bevorder. Maria Theresa het verwag dat daar aan haar verslag gedoen moes word rakende Franse ministeriële aanstellings, en sy het by haar dogter aangedring om Frankryk se buitelandse beleid ten gunste van Oostenryk te beïnvloed. Dit was dikwels baie gevra, veral in situasies waar die belange van Oostenryk met dié van Frankryk gebots het, byvoorbeeld met die eerste gebiedsdeling van Pole in 1772 en die Oorlog van Beierse Troonopvolging in 1778. Maria Theresa se dreigende teenwoordigheid het niks gedoen om Marie Antoinette se reputasie te help nie, en sy is daarvan beskuldig dat sy te getrou aan haar geboorteland was, en dikwels is daar neerhalend na haar as l‘Autrichienne (die Oostenryker) verwys.

Marie Antoinette in 1775
Marie Antoinette in 1775
Jean-Baptiste André Gautier-Dagoty (Public Domain)

Ten spyte van al bogenoemde was Marie Antoinette inderdaad gewild tydens haar eerste paar jaar in Frankryk. Sy was jonk, pragtig en sjarmant, en haar eerste besoek aan Parys in 1773 was ’n rasende sukses. Haar geoefende sierlikheid het haar bemind onder die dames aan die hof gemaak, veral onder die dauphin se tantes, en sy het pogings aangewend om ook ’n verbintenis met haar wederhelf te bewerkstellig en hom op sy geliefde jagtogte vergesel. Sy het egter steeds mededingers gehad, vernaamlik madame Du Barry, Louis XV se hoof- koninklike minnares, wie se invloed oor die ouerige koning haar so te sê ryksbestuurder van Frankryk gemaak het.

Die wedywering het begin toe Du Barry die ontslag veroorsaak het van die hertog van Choiseul, ’n argitek van die Frans-Oostenrykse bondgenootskap wat Marie Antoinette as vriend en bondgenoot aan die hof gereken het. Daarna het Marie Antoinette geweier om met Du Barry te praat, wat ’n skandaal kon veroorsaak het indien Maria Theresa nie haar dogter gelas het om met die vrou te praat nie. Marie Antoinette het onwillig toegegee. Op Nuwejaarsdag 1772 het sy een onbesielde sin teenoor Du Barry kwytgeraak: “Daar is vandag baie mense by Versailles.” (Fraser, 98) Dit was nie veel nie maar dit was genoeg om ’n skandaal te voorkom. Marie Antoinette het Du Barry egter vyandiggesind gebly, en laasgenoemde is twee dae nadat Louis XVI die troon bestyg het uit die hof verban.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Koningin van Frankryk

Louis XV is op 10 Mei 1774 aan pokke dood. Ná sy dood het die 19-jarige Louis-Auguste die troon as Louis XVI, koning van Frankryk en Navarre, bestyg, met Marie Antoinette as sy gemalin. Die kroning het bietjie meer as ’n jaar later in Reims plaasgevind.

Louis XVI of France
Louis XVI van Frankryk
Joseph-Siffred Duplessis (Public Domain)

En tog was daar ten midde van die kroning ’n groot probleem met die koninklike egpaar se huwelik: Marie Antoinette moes nog swanger raak. Trouens, teen 1777 moes die koninklike egpaar se huwelik van sewe jaar nog volvoer word. Aangesien dit ’n noodsaaklike rol van enige gemalin van ’n koning was om erfgename voort te bring, het Marie Antoinette se posisie al hoe onveiliger geraak, hoe langer dit haar geneem het om kinders te kry. Die huwelike van die koning se jonger broers, die graaf van Provence en die graaf van Artois, het gedreig om haar invloed te ondermyn indien enigeen van hulle se huwelik voor haar eie ’n kind opgelewer het – ’n vrees wat in 1775 met die geboorte van Artois se seun verwesenlik is. Duidelik het die koning en koningin ’n bietjie leiding benodig. Marie Antoinette se oudste broer, Joseph II, Heilige Romeinse Keiser (r. 1765-1790), was gretig om toe te sien dat die erfgenaam tot die Franse troon half-Habsburgs moes wees, en het homself daarmee bemoei om sy suster se huwelik te red.

Joseph het in April 1777 incognito in Frankryk aangekom. Hy het met sowel die koning as koningin vergader en navraag gedoen oor waarom die huwelik nog nie volvoer is nie. Alhoewel gerugte in omloop was dat Louis XVI aan fimose, ’n toestand wat die seksdaad moontlik pynlik kon maak, gely het, het Joseph waargeneem dat dit eerder ’n kwessie was dat Louis ongevoelig teenoor sy plig as eggenoot gestaan het. In ’n brief aan sy broer Leopold het Joseph spottend na Louis se vreemde manier van geslagsomgang verwys: “Hy bring sy roede te voorskyn, bly daar vir ongeveer twee minute sonder om te beweeg, onttrek hom en sê dan goeienag.” (Fraser, 156) Joseph moes blykbaar sy swaer onderrig het in die korrekte manier waarop die daad verrig moes word want ná sy terugkeer na Wene het hy ’n brief van sowel Marie Antoinette as Louis ontvang wat hom vir sy raad bedank, en hom ingelig het dat die koningin uiteindelik swanger was. Wat ook al Joseph gesê het, blyk suksesvol te gewees het aangesien Louis voortaan nie meer net “twee derdes van ’n eggenoot” (Fraser, 157) was nie.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Marie Antoinette het later vier kinders gebaar. Die geboorte van ’n dogter, Marie-Thérèse, in 1778 is in 1781 gevolg deur die langverwagte geboorte van ’n dauphin, Louis-Joseph, en toe nog ’n seun in 1785, Louis-Charles. Haar laaste kind, Sophie, is in 1786 gebore en het net 11 maande gelewe – ’n verontrustende presedent aangesien net Marie Antoinette se oudste kind tot en met volwassenheid oorleef het. Die koningin was ’n liefdevolle moeder wat dol oor elkeen van haar kinders was. Marie Antoinette se kroos het ook ’n hele paar aangenome kinders ingesluit.

Marie Antoinette and her Children
Marie Antoinette en haar kinders
Élisabeth Vigée Le Brun (Public Domain)

Die koningin se plotselinge vrugbaarheid is deur sommiges met agterdog bejeën. Die lasterlike libelle-pamflette wat Marie Antoinette aangeval het sedert sy koningin geword het, het gerugte begin versprei dat Louis XVI nie die vader van die koninklike kinders was nie. In ’n regering waarvan die legitimiteit van ’n geldige koninklike bloedlyn afgelei is, was dit inderdaad ’n gevaarlike ding om van beskuldig te word. Alhoewel die koningin sedert 1783 in ’n verhouding met die swierige Sweedse soldaat graaf Axel von Fersen (1755-1810) betrokke was, verwerp baie van haar biograwe, onder meer Antonia Fraser, die idee dat Marie Antoinette se kinders deur enigeen behalwe die koning verwek is.

Uiteraard was vyande van die monargie, sowel as diegene wat munt uit die skinderstories van die libelles wou slaan, nie juis besorg oor die waarheid nie. Aangesien Marie Antoinette ’n buitelander en ’n vrou was, het sy aanstons ’n gunstelingteiken van beswadderende gerugte geraak. Sy is met berugte vroue uit die geskiedenis vergelyk, met een pamflet wat haar “swarter as Agrippina … wellustiger as Messalina” (Furet, 258) genoem het. Sy is van veeltallige dade van seksuele afwyking beskuldig – van die hou van orgies in die tuine van Versailles, tot die betrokkenheid by tersluikse lesbiese romantiese verhoudings. Die libelles was self dikwels pornografies en het prente van Marie Antoinette in obsene situasies ingesluit. Behalwe vir haar verhouding met Fersen was hierdie stories oor Marie Antoinette se losbandigheid alles blatante verdigsels.

SY IS AS ’N SIMBOOL VAN DIE KROON SE TOOMLOSE SPANDERING BESKOU, SODAT SY DIE BYNAAM “MADAME DEFICIT” GEKRY HET.

Die koningin is ook daarvan beskuldig dat sy ’n roekelose verkwister was. Sy was daarvoor bekend dat sy speletjies soos kaarte en biljart geniet het agter die geslote deure van die Petit Trianon, haar persoonlike paleis wat Louis XVI as huweliksgeskenk vir haar gegee het. Marie Antoinette se dobbelary, gekombineer met haar uitgawes vir modieuse rokke en meubels vir haar koninklike woonvertrekke, is deur baie met afkeur begroet soos wat die land op bankrotskap afgepyl het. Alhoewel die koningin nouliks die enigste oordadige besteder in die koninklike huishouding was, is sy steeds as simbool van die kroon se ongebreidelde spandering beskou, sodat sy die bynaam “Madame Deficit” gekry het. En tog is dit belangrik om daarvan kennis te neem dat Marie Antoinette ook dikwels aan liefdadigheid geskenk het, en haar met filantropiese dade bemoei het.

Die affêre met die diamanthalssnoer wat in 1785 aan die lig gekom het, blyk die finale spyker in die doodskis van die koningin se tanende reputasie te gewees het. Alhoewel sy die onskuldige slagoffer in die petalje was waartydens swendelaars haar handtekening nageboots het om ’n duur halssnoer te bekom, is Marie steeds ruim vir die daaropvolgende skandaal geblameer. Haar uitgawes het steeds noukeurig onder die loep gekom en is buitensporig oordryf, en alle pogings om haar beeld te herstel, het klaaglik misluk. Op die vooraand van die Revolusie was die koningin so verag dat sy opgehou het om haar verskyning by openbare geleenthede te maak.

Val van die monargie

In 1788 het die stand van die Franse finansies so vinnig versleg dat Louis XVI genoop is om ’n vergadering van die Algemene Landgoed te skeduleer wat die volgende jaar gehou sou word. In die hoop om veelbenodigde openbare ondersteuning voor die vergadering te verwerf, het Marie Antoinette die heraanstelling van die gewilde minister van finansies, Jacques Necker (1732-1804), georkestreer. Necker se aanstelling blyk wel ’n korttermynoorwinning te gewees het aangesien dit tot ’n opwelling in openbare goedkeuring van die regering gelei, en aanleiding tot ’n onmiddellike styging in die aandelebeurs gegee het. En tog was dit veels te laat om die openbare ondersteuning terug te wen: Terwyl sy op 4 Mei 1789 die prosessie afgevaardigdes van die Algemene Landgoed vooruitgegaan het, is Marie Antoinette met ’n kille stilswye begroet deur dieselfde omstanders wat die kampvegters van die gewone burgers toegejuig het wat ná haar gevolg het.

Die koningin was teenwoordig vir die opening van die Algemene Landgoed maar is binnekort weggeroep aangesien die toestand van haar seun, die dauphin, verswak het. Louis-Joseph, slegs sewe jaar oud, het op 4 Junie aan tuberkulose gesterf. Die dood van haar tweede kind in twee jaar (Sophie is in 1787 oorlede) het tot Marie Antoinette se smart bygedra wat haar in ’n routoestand laat verval het. Die land blyk egter min ag daarop te geslaan het synde alle oë op die Algemene Landgoed gerig was waar die Derde Landgoed besig was om ’n Nasionale Vergadering te vorm en op ’n nuwe grondwet aan te dring.

The Opening of the Estates-General
Die opening van die Algemene Landgoed
Isidore-Stanislas Helman (Public Domain)

die bestorming van die Bastille op 14 Julie 1789 het die Nasionale vergadering die Augustus Dekree uitgereik wat die feodale stelsel ontbind het, en het hulle die Verklaring van die regte van mense en burgers (Declaration of the Rights of Man and Citizen) aangeneem. Soos wat die Nasionale Vergadering die Ancien Régimen een dekree ná die ander onttakel het, het Louis XVI hardnekkig baklei om sy koninklike gesag te behou. Marie Antoinette, verhard teen die Revolusie en deur die graaf van Mirabeau (1749-1791) beskryf as “die enigste man” waarop die koning kon staatmaak, het onwrikbaar aan sy sy gebly (Schama, 533).

Op 5 Oktober 1789 het die Vrouemars na Versailles die koninklike gesin gedwing om na die Tuileries Paleis in Parys te hervestig, waar hulle onder die wakende oog van die burgermilisie – bekend as die Nasionale Garde – en dié se bevelvoerder, die markies De Lafayette (1757-1834), aangehou is. Soos wat die Nasionale Vergadering geworstel het om die bepalings van ’n nuwe konstitusionele monargie te definieer, het die invloedryke Mirabeau namens die koning geargumenteer, en die behoud van baie van Louis XVI se gesag aangeraai. Mirabeau se dood in April 1791 het die koning egter weerloos en vriendeloos in die Vergadering gelaat. Daardie Junie het ’n poging deur die koninklike gesin om uit Parys te ontsnap, misluk en die koning en koningin is deur die Nasionale Garde terug begelei. Die ontsnappoging het as die “vlugtog na Varennes” bekend gestaan en het tot ’n toename gelei in die publiek se wantroue van en misnoeë in Louis XVI en sy vrou wie se ambivalensie jeens die Revolusie baie mense laat dink het dat sy daarna hunker om in die bloed van Franse burgers te baai.

Ná Varennes het die omstandighede vir Marie Antoinette se gesin net vererger, en hulle is onder strenger bewaking geplaas. Die Verklaring van Pillnitz, deur Marie Antoinette se broer Leopold II, Heilige Romeinse Keiser (r. 1790-1792) en koning Frederick William van Pruise onderteken, het Frankryk met ’n inval gedreig sou die koninklike gesin leed aangedoen word. In April 1792 is die Franse Revolusionêre Oorloë (1792-1802) ontketen toe Frankryk amptelik oorlog teen Oostenryk verklaar het, met Pruise wat hulle as bondgenoot aan die kant van laasgenoemde geskaar het. Marie Antoinette het Franse militêre geheime in haar briewe aan Fersen en haar vriend graaf Mercy-Argenteau uitgelek in die hoop dat ’n Oostenryks-Pruisiese mag tot hulle redding sou kom.

Marie Antoinette in 1791/1792
Marie Antoinette in 1791/1792
Alexander Kucharsky (Public Domain)

In Julie 1792 het Oostenryk en Pruise die Brunswick Manifesto uitgereik waarin die algehele vernietiging van Parys belowe is indien enigiets met die koninklike gesin sou gebeur. In direkte reaksie hierop het ’n skare die Tuileries Paleis op 10 Augustus bestorm, en terwyl die koninklike gesin weggekruip het, het die skare die Switserse Wagte afgemaai. Drie dae later is die koninklike gesin in die Tempeltoring opgesluit.

’n Bietjie meer as ’n maand later het die verbysterende oorwinning van die Franse Revolusionêre Leër oor die Pruise by die Slag van Valmy die Nasionale Konvensie aangespoor om die monargie af te skaf en die Eerste Franse Republiek te verklaar. Marie Antoinette se eggenoot het nou bloot as “burger Louis Capet” bekend gestaan en is met verraad teen die Republiek aangekla en is in Desember verhoor. Hy is ter dood veroordeel en op 21 Januarie 1793 op die guillotine onthoof.

Teregstelling en nalatenskap

Ná haar eggenoot se dood is die eertydse koningin deur smart oorweldig. Daar is nou na Marie Antoinette as die “weduwee Capet” verwys en sy kon haarself nie eers so ver bring om haar vir ’n bietjie vars lug na die tuin te begeef nie want om dit te kon doen, moes sy verby die koning se verlate kamer loop. Aangesien haar oorlewende seun deur koningsgesinde émigrés as Louis XVII, regmatige koning van Frankryk, erken is, is Marie Antoinette op 3 Julie 1793 van hom geskei. Die kommissarisse wat hom kom haal het, het die onbevestigde verskoning gegee dat daar ’n sameswering was om die seun te ontvoer. Marie Antoinette het ’n uur lank geweier om haar seun prys te gee – selfs toe sy met die dood gedreig is – en het slegs toegegee nadat sy gewaarsku is dat haar dogter om die lewe gebring sou word.

In die maande wat op die dood van Louis XVI se teregstelling gevolg het, was Marie Antoinette se lot onseker. Sommiges het aan die hand gedoen dat sy as gyselaar aangehou moes word of moontlik in die uitruil van gevangenes gebruik moes word, maar die opkoms van die radikale Jakobyne en die bewind van die berugte Komitee vir Openbare Veiligheid het haar lot verseël. Ná die mislukking van die Angeliersameswering om haar uit die tronk te ontset, is die weduwee Capet op 14 Oktober deur die Revolusionêre Tribunaal verhoor en van ’n verskeidenheid misdade, onder meer hoogverraad, aangekla. Sy is skuldig bevind en ter dood veroordeel en is op 16 Oktober 1793 op die guillotine onthoof. Haar laaste woorde, nadat sy per ongeluk op die voet van haar laksman getrap het, was, “Verskoning, meneer, ek het dit nie met opset gedoen nie.” (Fraser, 440)

Die nalatenskap van Marie Antoinette is dié van ’n tragiese figuur, ’n slagoffer van haar tyd en omstandighede. Die leuens wat oor haar versprei is, was genoeg om haar reputasie so volkome te beswadder dat sommige gerugte vandag steeds volhard – daar is byvoorbeeld geen bewys dat sy ooit gesê het Laat hulle koek eet nie. alhoewel die aanhaling steeds aan haar toegedig word. Sy was ’n sondebok vir alles wat fout was met die Franse monargie, en baie mense het haar dood as noodsaaklik vir die vooruitgang van die Revolusie beskou. Ongeag daarvan hou haar legende stand sodat die verhaal van Marie Antoinette, met die tragiese einde daarvan, mense vandag steeds fassineer.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Vrae & Antwoorde

Wie was Marie Antoinette?

Marie Antoinette is op 2 November 1755 in Wene as Maria Antonia Josepha Joanna, aartshertogin van Oostenryk en die 15de kind van die Habsburgse keiserin Maria Theresa van Oostenryk (1717-1780) en Francis I, Heilige Romeinse Keiser (1708-1765), gebore. Tydens die stormagtige laaste jare van die Ancien Régime en die daaropvolgende Franse Revolusie (1789-1799) was sy koningin van Frankryk.

Wat het Marie Antoinette bekend gemaak?

Sy was ’n slagoffer van haar tyd en omstandighede, en is ’n sondebok gemaak vir alles wat verkeerd was met die Franse monargie. Die leuens wat oor haar versprei is, was genoeg om haar reputasie so volkome te beswadder dat sommige gerugte vandag steeds volhard.

Hoeveel kinders het Marie Antoinette gehad?

Marie Antoinette het vier kinders gehad: Marie-Thérèse in 1778, Louis-Joseph in 1781, Louis-Charles in 1785, en Sophie in 1786. Net haar oudste kind het tot volwassenheid oorleef.

Waarom is Marie Antoinette tereggestel?

Ná die opkoms van die radikale Jakobyne tydens die bewind van die berugte Komitee vir Openbare Veiligheid het die Revolusionêre Tribunaal haar van ’n verskeidenheid misdade – onder meer hoogverraad – beskuldig aangesien baie mense haar dood as noodsaaklik vir die vooruitgang van die Revolusie beskou het.

Wat was Marie Antoinette se laaste woorde?

Nadat sy per ongeluk op die voet van haar laksman getrap het, was haar laaste woorde, “Verskoning, meneer, ek het dit nie met opset gedoen nie.”

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Harrison W. Mark
Harrison Mark is ’n gegradueerde van SUNY Oswego, waar hy Geskiedenis en Politieke Wetenskap gestudeer het.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, H. W. (2022, April 04). Marie Antoinette [Marie Antoinette]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20650/marie-antoinette/

Chicago-styl

Mark, Harrison W.. "Marie Antoinette." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig April 04, 2022. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20650/marie-antoinette/.

MLA-styl

Mark, Harrison W.. "Marie Antoinette." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 04 Apr 2022. Web. 27 Apr 2024.